Wat is narratief

Wat is Pastorale Narratiewe Terapie?

Om oor Pastorale Narratiewe Terapie te gesels, moet ons erkenning gee aan die stemme wat deel maak van hierdie gesprek. Ons sal dus moet luister na die stem van Pastorale Teologie én die stem van die Narratief. Beide hierdie stemme tree egter tot die gesprek toe om hierdie beradingsvuur vanuit die vuurkring van die Sosiale Konstruksionisme.

Sjoe, ‘n mondvol, nè! Maar kom ons luister wat hulle te sê het…

1) Sosiale Konstruksionisme is eerste aan die woord:
Ek wil myself eintlik nie as ‘n stem bekend stel nie. Miskien is daar sin daarin om my eerder as die vuurkring waarbinne hierdie gesprek gekoester is, te sien. In die soms opwindende beweeg-beweeg van die ligspel, die skuif dan hierheen dan daarheen, nou ‘n skadu hieroor, dan weer die skaduspel daarheen – o, en altyd die misterie, die verwondering…Ja, ek sal daarvan hou as julle my eerder as die gedurige spel van die vuurlig sal sien…

Pastorale Teologie sit vorentoe met blink oë en tree dadelik tot die gesprek toe:
Dit lyk my die ketel hier op die vuur kook ook nou net. Wie is lus vir ‘n koffietjie?
Dit herinner my aan wat Petersen gesê het. Onthou julle hierdie aanhaling?
Peterson (1992:1) het mos gesê: “Pastoral work takes Dame Religion by the hand and drags her into the everyday world, introducing her to friends, neighbours, and associates. Religion left to herself is shy, retiring, and private; or else she is decorative and proud – a prima donna. But she is not personal and she is not ordinary. The pastor insists on taking her where she must mix with the crowd.”
En so bring die pastoraat met haar passie vir versorging toe my stem in hierdie gesprek in.

2) Narratief kom aan die beurt:
Ek is so opgewonde oor julle verhale wat hier ter sprake kom. My opwinding spruit uit die moontlikhede wat geskep word as ons verhalend begin gesels oor ons eie werklikhede. Julle weet verhale gee ons die geleentheid om di twat met ons gebeur in te trek in die samehangendheid van storie. Storie het mos ‘n tema waarbinne al die ervarings en geleenthede tuiskom. Nou ja, so kom Pastorale Teologie se versorgingsverhale en my sinmaak-verhale almal hier tuis binne ons gesamentlike verhaal van Pastorale Narratiewe Terapie. Die narratief het baie te danke aan deelnemers soos Michael White, David Epston, Gene Combs, Gill Freedman, John Winslade, Alice Morgan, … ai, die lysie gaan aan en aan.

Sosiale Konstruksionisme:
So as ek nou reg verstaan, sê jy daar bestaan ‘n behoefte om sin te maak van dinge wat met ons gebeur en as ons hulle nou in ‘n verhaal kan tuis bring, gee dit ons die ervaring van betekenisvolheid en samehangendheid. Maar wat nou as dit vir ons ‘n vernielverhaal is, ‘n boelieverhaal….?

Narratief:
Jippie, ek is so bly jy vra! Weet jy, daar is gelukkig nie net een verhaal moontlik nie – ons Toe ons nou ons verhaal, sê maar ons lewensverhaal, uit lewenservaringe geskep het, was daar nie plek vir alles wat ons al ervaar het nie. Ons moes toe kies en so heelwat uitlaat. As ons nou op die paadjie terugstap en daardie ervarings wat uitgeval het, gaan opsoek en hulle dalk eerder inspan in ons lewensverhaal, ontstaan daar dalkies ‘n ander verhaal, ‘n verhaal wat ek sou verkies omdat dit my sterker maak, my lewe meer betekenis gee…
So wat ek wil sê, is dat daar altyd ‘n veelvoud van verhale is waarin ek my bevind!

Pastorale Teologie:
Sjoe, Narratief, dis wonderlik! Dink net aan al die moontlikhede! Dit beteken vir my nou sommer baie. Ek wil dit gaar gaan uittoets…

Sosiale Konstruksionisme:
Ja, en nou verstaan julle ook sommer meer van dit wat my ligkring bied: hier saam, in die verhouding tussen ons, skep ons gedurig nuwe betekenis; ons moet net altyd onthou dat soos die lig vir ons nuwe moontlikhede skep, die ligspel dalk ook steeds sekere moontlikhede in skadu hul…