Die Koningin van Stilbly kry ‘n stem

Ek het die Coram Deo-aanlynkursus in narratiewe berading (tweejaarkursus) in 2018 begin en aan die einde van 2019 voltooi.

Michael White (1948 – 2008) was die pionier van die narratiewe berading. Hy het kliënte se narratiewe of verhale meesterlik gebruik om in berading saam met hul ’n pad te stap. ’n Berader moet, volgens hom, dubbel luister (dis dan double listening, soos hy dit gestel het) na wat mense sê om die storie agter die storie te ontrafel.

Enige joernalis sal by White se beradingsaanslag aanklank vind. Want joernaliste (ek ingesluit) luister na stories. Ons wonder wat lê daaragter, ontleed hul, soek die dieper betekenis … Joernaliste kén van stories.

White se benadering het my getrek omdat dit gekoppel is aan dít waarmee ek dekades lank kos op die tafel gesit het: mooi luister, diep luister … luister én luister.

Ek het begin oplees oor Michael White en narratiewe berading en raak-ge-google dat Coram Deo in Pretoria kontak- en aanlynkursusse in pastorale narratiewe berading aanbied. Die moontlikheid van persoonlike groei het gewink. Om dit dan dalk mettertyd as opgeleide narratiewe terapeut in die gemeenskap te kan gebruik, het nommerpas gevoel.

Interessant in dié verband: Erikson, ’n sielkundige in die vorige eeu, het voorgestel dat ’n mens deur sewe psigososiale stadia in jou lewe gaan. Die stadium by aftrede word dikwels gekenmerk deur ’n behoefte om iets positief in die samelewing by te dra en om die generasies van môre te help rig. Dít resoneer ook met waar ek myself nou op my lewenspad bevind: Afgetree en met ’n wens om andere by te staan.

Omdat ek in die gehuggie Stanford in die Overberg woon, kon ek nie fisies klas draf nie – my enigste opsie was dus die aanlynkursus.

Net daar hokaai ek. Aanlynklasse was nie vir my nie.

Want my storie is – soos dié van baie joernaliste – een van introversie. Voeg daarby ’n mate van sosiale fobie. Lees en skryf en navors, en, ja, luister, is wat ek kan doen. Een-tot-een kan ek ook myself laat geld. Maar in ’n klein aanlyngroep waar die webcam soms net op my fokus? Aikôna, dit kon nie gebeur nie. Dit sou my mos immobiliseer.

Ek het tevergeefs vir Elmo Pienaar gebel en geskryf; gesoebat dat ek dit liewer dit met ‘n korrespondensiekursus doen.

Elmo het gesê die probleem hoef nie alle ander eienskappe in my uit te sluit nie. En net daar begin my alternatiewe storie met die Sosiale Fobie-monster meeding. Binne my – die Koningin van Stilbly – het ’n stemmetjie gefluister: “Toe nou, laat ander jou tog hoor”.

Voowaar. Van stemlose Nelly vir bykans die hele eerste jaar van aanlynklasse tot ’n steeds stil maar opmerklik meer verbale teenwoordigheid in die tweede jaar het my storie ryker geword. Die diepte van die kursusinhoud, die insig van die dosente en die toegeneentheid van die aanlyngroep het die Skuspook verjaag.

Vanjaar doen ek die supervisieprogram by Coram Deo.

Nelly het ’n stem toe.

EP-Admin
Latest posts by EP-Admin (see all)

It's lonely out here, do leave a reply