Donderwolk en Pixiedust

Probleme het mos die manier om baie oortuigend oor jou te kom toring! Op so ‘n manier dat dit begin voel of alles donker word en jou hoop sommer verswelg word daardeur.

Die gevolg hiervan is dan mos ook dat dit ons nie toelaat om die sprankies hoop wat wel nog bestaan, die mooi wat nog bestaan, die lig wat nog deurskemer – om alles wat nie inpas by die donker prentjie wat hy ons wil laat sien, nog enigsins op te merk nie. En as ons dit wel nog opmerk, lyk dit so onbeduidend klein dat dit in elk geval nie eers iets beteken nie.

Die uitdaging is dus om die invloed van hierdie oordonderende voorstelling van die probleem te begin ondermyn! Maar hoe gaan ons te werk? Al die voorbeelde van gevalle waar die probleem ons nie kon boelie, ons hoop nie kon afbreek nie, lyk so nietig en is in elk geval so vlugtig weer vergete – soos ‘n stoffie voor daardie bries wat die voorspel tot die donderstorm is. As ons maar net ‘n manier kon vind om dit vas te hou, dit te koester op ‘n manier wat ons toelaat om dit later, wanneer ons weer amper oorweldig begin voel, net weer te kon uithaal en wéér te beleef!
En ons kan dit doen!

Daar is ‘n manier waarop ons hierdie ligstraaltjie-verhale kan statuur gee as teenverhaal vir die donderwolk-verhale. Die geheim hiervan lê in detail – om hierdie uitsonderings te begin opstel teenoor die donderwolke in ons lewe, sal ons hulle lewensgroot moet begin herleef. Hiervoor het ons nodig om daardie klein uitsonderings – daardie rebel-insidentjies wat hardnekkig weier om te swig voor die oënskynlike konsekwentheid en omvattenheid van die probleem wat oor ons toring – te identifiseer en erkenning te gee. Dink byvoorbeeld aan ‘n keer toe jy nie byvoorbeeld lewensmoeg gevoel het nie, al was dit dan ook vir ‘n vlietende sekonde. Probeer dit nou weer fisies herleef in al die sensoriese rykheid van die moment. Hoe het jy gevoel? Wáár het daardie gevoel in jou lyf gesit? Hoe het jou hartklop rustiger geraak? Jou asemhaling? Wat het jy gehoor? gesien? geruik? op daardie tydstip?

En nou vir die uiters belangrike anker hiervan: terwyl jy dit nou weer so werklik beleef, anker dit met ‘n fisiese gebaar – iets soos die “OK”-gebaar of ‘n “air punch” – en dalk ‘n sug of ‘n uitroep – dalk iets soos “aa”, “sjoe”, “wow”, of enige uitroep wat vir jóú betekenisvol is! Hiermee word die belewenis van daardie voorkeur-ervaring (iets wat ons verkies bó die oordonderende probleemverhaal) geanker op ‘n manier wat ons weer daartoe toegang sal gee wanneer ons nodig het om dit te herleef of net weer wil beter voel.

Wat ook belangrik is, is om dit proaktief te begin doen – om ‘n oog te begin ontwikkel vir soortgelyke, baie positiewe ervaringe – en hulle dan as’t ware “op te stapel” in ons ervaringbank om later weer te kan oproep.

Aanvaar die uitdaging en gaan probeer dit gerus, want op hierdie manier slaag ons daarin om ‘n Moment in ‘n Monument te omskep en te verewig