Koning van krone

Hierdie brief aan Korona geskryf deur Nadia word met toestemming en dank aan Nadia Swanepoel en gespreksgenoot Elna Esternhuysen geplaas. Die brief is ook beskikbaar om agelaai te word.

26 Maart 2020

Corona

Soos ‘n dief het jy oornag inbreuk in ons lewens gemaak – met die doel om te steel, dood te maak en te vernietig.

Selfsugtig
Ongenooid
Skurk
Dief

Nes ‘n dief in die nag het jy ons lewens, lewensvreugde, skoonheid en tyd kom steel. Gesinne, families, drome en wense is vernietig. Niks gaan ooit weer die selfde wees “soos in die ou dae” voor Corona nie.
Jy het my beroof van hoop, ‘n kans om my vlerke te sprei, te dans en te lééf tussen berge en sandduine. Jy het my ontneem van planne, mense en drome.
Jy is die bron van verdriet, woede en frustrasie.
Jy is onwelkom en ongewens.

Maar –
ek sal nie toelaat dat jy die finale sê het nie. Jy het gedink jy gaan dié een wen –
maar nie die keer nie.

My planne om te baljaar tussen berge en dale,
die begin en einde van elke nuwe dag te begroet op sandduine
en die vryheid van wéés word nie doodgedruk of besteel nie.
Ek bêre dit net vir later.

Intussen –
terwyl jy soos doodsengel van een land na ‘n ander woed, neem ek my plek in vir oorlog:
-by die voete van die Koning van Krone.

Ek en my weermag maak ook reg vir oorlog.
Die selfde Kroon wat storms op see kan aanspreek , kan skep uit chaos.
Terwyl ons rus by die voete van die Kroon, weet net mooi…
jou dae is getel.
…wat jy steel, moor en vernietig gee mý Kroon in dubbele maat terug.

Terwyl jy chaos saai –
rus ek op my knieë, toegedraai in liefde, vrede en genade.
Weet net – ook vir jou sal die wiel draai.

Nadia Swanepoel
2020

EP-Admin
Latest posts by EP-Admin (see all)
1 Comment
  1. Sjoe dis trane-trek, hoendervleis mooi gestel Nadia, van ‘n ander Nadia. Mag ons meer hoop bring in hierdie donker wêreld!

It's lonely out here, do leave a reply