Kraletjieverhale

Die werklikhede wat ons beleef, het die geneigdheid om kleintjies te kry: as ons besluit om ‘n nuwe motor te koop en ons keuse val op sê ‘n Nissan Micra, is ons verstom om te sien hoeveel Nissan Micra’s skielik oral rondom ons op die paaie te sien is.

Net omdat ons meer op Micra’s ingestel is, meer bewus geword het van Micra’s.

Ons vermoed die lewe werk maar baie so. As ek oortuig is dat ek maar ‘n swak verkoopsman of bemarker is, kan ek gou genoeg staaltjies onthou en aanhaal wat bewys hoe sukkel ek om iemand te oortuig om ‘n kaartjie by my te koop of so.

Nou hoe sou dit kon werk? Baie maar soos ‘n stringetjie kraletjies dalk. As ek ‘n stringetjie kraletjies begin inryg en ‘n patroontjie ontwikkel, begin ek gou genoeg uit die hopie krale in my hand daardie kraletjies uitsoek wat inpas by die kleurepatroon van my snoertjie. Wit-rooi-wit-rooi… en ek weet om volgende op die uitkyk te wees vir ‘n … witte, natuurlik! Ja, en as ek nou die swak verkoopsman is, is die volgende belewenis van swak smousvaardigheid ook net soveel meer opmerklik as die keer toe ek by die kerkkermis pannekoek verkoop het. Amper asof die kraletjiepatroon soos ‘n filter begin werk wat ander patrone uitsluit, my selfs blinddoek daarvoor.

En hoe kry ons dit reg om die blinddoek af te haal, ook ander kraletjies raak te sien? Dalk moet ons ons deurentyd daaraan herinner dat daar altyd ander kraletjies is en dat ek sekeres selekteer, dat ek myself ook kan sensiteer vir ander opsies dus.