Oosterlig

Vir die afgelope twintig jaar bestaan daar ‘n unieke en betekenisvolle verhouding tussen Coram Deo NWM en Oosterlig gemeente.

Dit is wonderlik om die lewensreis en veral die geloofsreis in Jesus met jou te deel. Op hierdie bladsy kommunikeer ons van tyd tot tyd nuus wat jou raak. Ons verduidelik ook graag hoe die verhouding met Oosterlig werk en wat dit vir jou beteken.

Jy is natuurlik welkom om enige tyd te kom kuier. Op die stadium, gedurende die Covid-19 grendeltyd kuier ons aanlyn. Laat gerus van jou hoor.

In die vooruitsig

Maak jouself diensbaar om die nood van die Covid-tydperk aan te spreek. Leer om beter te luister en betekenisvolle vrae te vra.

Ons het ‘n narratiewe kortkursus die 24-25ste April. Dit vind aanlyn plaas. Oosterlig gemeentelede kan dit met ‘n spesiale tarief bywoon wat jy nie op die normale materiaal sal sien nie. Oosterlig lede val in die B1 kategorie wat teen die nominale fooi van R250 deelneem.

Hoe kan ons help?

Word jy veral deur Covid-19 geraak op ‘n emosioneel, geestelike verhoudingsvlak?

Indien die Covid-19 tydperk jou in besonder raak en jy uitdagings beleef wat daarmee verband hou dan wil ons jou graag bystaan. Daar is verskeie persone wat in die tyd graag met jou ‘n pad sal stap. Dit kan berading inhou of doodgewoon persone wat opgelei is om net raakpas te luister – die keuse is joune. Bel gerus in en dui aan dat jy graag van die Covid-hulpverleningsdienste aanbieding gebruik wil maak.

Wie ons is en ons Oosterlig verhouding

By Coram Deo sien ons onsself as ‘n organisasie wat pastorale-sendelinge oplei. Mense wat in die verlede by ons studeer het is al woonagtig in ‘n paar lande. Ons het formele leergemeenskappe tot in Namibië; Dalk nie sendelinge in die tradisionele sin van die woord nie maar mense wat lief is vir die Here en graag aktief ‘n rol wil speel in God se plan met mense-in-verhouding en gemeenskappe. ‘n Teoloog met die Leonard Sweet het op ‘n kol gese dat in die verlede die kerk baie die benadering gevolg het dat mense eerste moet glo voordat hulle behoort maar dat die kerk haar roeping beter uitdruk as ons besef dat mens eers behoort en dan glo.

By Coram Deo kan ons nie bepaal wie ons kursus doen nie of wie ons in berading sien nie. Deelnemers kom vanaf verskeie denominasies. Daar is ookal studente en mense wat aanklop vir berading van verskillende gelowe af gewees. Dit sou nie so kon wees as ons fundamentaal strak dink oor ons geloof nie. As leierskap is ons egter mense wat dissipels van Jesus is. Dit is vir ons kosbaar! Ons skep ‘n ruimte vir ons studente om op ‘n nie veroordelende manier oor grense heen in gesprek te kan gaan terwyl ons steeds vashou aan wat ons glo. In akademie is dosente se rol om ons te help om waarderend maar ook krities-reflektief deel te neem. Ons wil nie ons geloof op auto-pilot sit nie. Ons weet dat geloof gesond kan maak maar ook seer kan maak op ‘auto-pilot’ en in die geskiedenis al ongelooflik baie seergemaak het en mense juis verder vervreem het van Jesus. En mense wat seer het sal nie glo nie, want hulle voel nie hulle ‘behoort’ nie.

As ons dink aan wat ons rol is as pastorale-sendelinge dan is dit in die eerste instansie belangrik om mense te help om te behoort en gesond te maak. Dit is hoe ons as gelowiges verhouding bou. Op ‘n ander bekende manier verduidelik: Mense wat honger is gaan nie die evangelie hoor nie. Terug by berading. Dit is dus nie so dat elke beradingsgesprek ‘n geloofsgesprek as inhoud het nie, maar ons sien wel elke gesprek as ‘n Coram Deo gesprek. ‘Coram Deo’ beteken in die teenwoordigheid van God.