Ontbloot eenvrou-vertoning Edrien Erasmus

Kom verdryf die koue om ‘n koppie sop en sjerrie en geniet die aand saam met Edrien Erasmus ten bate van Coram Deo Pastorale en Narratiewe Terapie sentrum.
Edrien se eenvrou-vertoning, Ontbloot, is ‘n kombinasie van komedie, musiek, kabaret, klavier en sang. Dit beloof om ‘n heerlike kuier aand te wees!

‘n Bietjie meer oor Edrien en Ontbloot.

Na meer as 15 jaar in die vermaaklikheidsbedryf, het Edrien Erasmus genoeg moed bymekaar geskraap om haar eie hart as kunstenaar, vrou, mens, sanger en grappie-verteller (is dit ooit iets?) met gehore te deel.

Edrien is bekend vir haar rolle in verskeie musiekblyspele, onder andere “Droomkind”, “Liefling”, “Ons vir jou” en “Lied van my hart”. Haar film ervaring sluit in “Vir die Voëls”, “Kampterrein” en vroeër in 2017 het sy die geleentheid gehad om te werk aan die verfilming van “Raaiselkind.” Sy was ook al te sien in, onder andere 7de Laan, High Rollers, Donkerland, Bloedbroers, Elke skewe pot en Sterlopers. Sy vertolk die rol van Bartha van Rooyen in Lefra se verhoog produksie “Fiela se kind”’ wat landswyd toer.

Sy gesels:

“Om ’n kunstenaar of selfs net kreatiewe mens te wees, dwing jou soms om verskillende karakters in jou hart en kop toe te laat. Die groot uitdaging is, om tussen al die verskillende karakters, emosies, rondtoer, skryf, sing, skep, kreatief bly en duisend ander veranderlikes, steeds jouself te bly. Eerlik, ontbloot… net Edrien.”

Edrien nooi gehore uit om vir ‘n oomblik in haar wêreld te kom kuier:

“Ek belowe nie dat jy aan die einde van “Ontbloot” enigsins my as mens sal verstaan nie, ek belowe net ‘n kykie in die wêreld wat ek meestal my eie noem. Ons gaan sing en lag en huil en daarna bietjie wyn drink.”

Ontbloot is ‘n eenvrou-vertoning wat bestaan uit tientalle oorspronklike liedjies, verskeie oorspronklike komiese stukke asook ‘n kabaretnommer of twee met Edrien Erasmus, klavier begeleiding deur Mariëtte Galjaard en regie word behartig deur Cobus Venter en Musiek regie deur Chanie Jonker.

Die kombinasie van komedie, musiek, kabaret, klavier en sang is die perfekte resep vir “ontbloting”.

Vriendelike groete,
Coram Deo en Edrien Erasmus

EP-Admin