Wat is narratief

Die volgende informasie is ‘n kreatiewe bekendstelling aan die groter idees ‘pastoraal’ en ‘narratief’ wat die benadering ‘pastorale narratiewe terapie’ kenmerk. Die benadering is egter allermins bloot op berading van toepassing (of diegene wat beraders wil word op ‘n narratiewe manier). Dit is vir enigeen.

Hieronder word die beeld van ‘n vuurkring gebruik. Jy ken dit as ‘n ‘kampvuur.’ By hierdie vuurkring ontmoet interresante karakters, wie vandag nog vir jou vreemd sal wees omdat jy miskien die eerste keer van hulle hoor. Hulle kom uit idee-wêrelde wat mens nie sommer besoek behalwe as jy dalk iets soos sielkunde (of breedweg iets in die menselik hulpverleuningsveld) studeer het nie. Hulle name is ‘Sosiale Konstruksionisme,’ ‘Narratief’ en ‘Pastoraal.’ Hierdie karakters self, kom uit verskillende idee-wêrelde en by Coram Deo bring ons hulle saam om die hele wêreld ‘n beter plek te maak.

Onthou, kampvuur gesprekke lê op ‘n dieper vlak en is soms moeiliker om te volg. Daarom word dit ook op ‘n ander  eenvoudige manier verduidelik, hier in Engels. En net voor ons na die vuurkring gaan, in kort , verduildelik ek dit graag opsommenderwys:

Soos jy kan raai het ‘n Narratiewe benadering met stories te make. Jy jou lensverhaal kan gesien word as ‘n storie. Hoe jy oor jouself dink (of jou verhoudings, of jou werk, of  jou familie, of jou organisasie) word gevorm deur hoe jy jou ervarings in die lewe aanmekaar ryg. Dit gebeur nie noodwendig eers bewustelik nie. In daardie aanmekaar-ryg is daar baie bestandele: Die stem van jou kultuur, die samelewing, jou werk, beroep, jou vriende, jou geloof en vele meer. Daardie storie of eintlik klomp stories vorm ons identiteit. Daar vorm ongesonde stories en in narratief werk ons met hoe al daardie bestandele jou storie vorm. Dan help ons mense om ‘n gesonder storie oor hulle menswees en verhoudings te skryf met bestandele uit jou verhaal, jou waardes, jou wense, jou mense, jou geloof, om die alternatiewe verhaal (of voorkeur verhaal) te begin sterk maak. Dit begin vir jou (jou familie, jou werk, jou leierskap, en so aan) ‘n fondasie vorm wat die ongesonde verhale uitdaag en afbreek.

‘n Narratiewe benadering het begin by narratiewe ‘terapie’ maar kan op soveel meer plekke gebruik word. Dit is ‘n manier vir enige persoon, die leier in ‘n maatskappy, die coach, die onderwyser of ouer, die haarkapster, om die lewe te verstaan en met ons mede lewens-reisgenote in sinvolle gesprek te wees. Die doel van die gesprek kan leierskap wees, dit kan berading-tipe temas wees (die oorspronklike konteks), dit kan gesprekke met jou kinders wees oor woede en soveel meer – alles aan die hand van mense se eie ervarings op die lewensreis, hulle stories.

Maar as jy tyd het, kom sit by die kampvuur.

Wat is Pastorale Narratiewe Terapie? (Om die kampvuur)

Om oor Pastorale Narratiewe Terapie te gesels, moet ons erkenning gee aan die stemme wat deel maak van hierdie gesprek. Ons sal dus moet luister na die stem van Pastorale Teologie én die stem van die Narratief. Beide hierdie stemme tree tot die gesprek toe om hierdie beradingsvuur vanuit die groter vuurkring van die Sosiale Konstruksionisme.

Sjoe, ‘n mondvol, nè! Maar kom ons luister wat hulle te sê het in die gesprek om die vuurkring…

Mees eenvoudig gestel. Narratief is ‘n respekvolle manier om na mense se ervarings te luister en daarmee te werk as die boublokkies vir ‘n beter lewe, familie, gemeenskap, werksomgewing. Dit geld vir enige professie of rol waarin jy narratief wil toepas hetsy jy opeindig in ‘n privaatpraktyk of dit toepas gewoon in ‘n werksrol of persoonlike kring.

Sosiale Konstruksionisme is eerste aan die woord en vertel:

Ek wil myself eintlik nie as ‘n stem bekend stel nie. Miskien is daar sin daarin om my eerder as die vuurkring waarbinne hierdie gesprek gekoester is, te sien. In die soms opwindende beweeg-beweeg van die ligspel, die skuif dan hierheen dan daarheen, nou ‘n skadu hieroor, dan weer die skaduspel daarheen – o, en altyd die misterie, die verwondering… Ja, ek sal daarvan hou as julle my eerder as die gedurige spel van die vuurlig sal sien…

Pastorale Teologie sit vorentoe met blink oë en tree dadelik tot die gesprek toe:

Dit lyk my die ketel hier op die vuur kook ook nou net. Wie is lus vir ‘n koffietjie?
Dit herinner my aan wat Petersen gesê het. Onthou julle hierdie aanhaling?
Peterson (1992:1) het mos gesê:

“Pastoral work takes Dame Religion by the hand and drags her into the everyday world, introducing her to friends, neighbours, and associates. Religion left to herself is shy, retiring, and private; or else she is decorative and proud – a prima donna. But she is not personal and she is not ordinary. The pastor insists on taking her where she must mix with the crowd.”

En so bring die pastoraat met haar passie vir versorging toe my stem in hierdie gesprek in.

Narratief kom aan die beurt:

Ek is so opgewonde oor julle verhale wat hier ter sprake kom. My opwinding spruit uit die moontlikhede wat geskep word as ons verhalend begin gesels oor ons eie werklikhede. Julle weet verhale gee ons die geleentheid om dit wat met ons gebeur in te trek in die samehangendheid van storie. Storie het mos ‘n tema waarbinne al die ervarings en geleenthede tuiskom. Nou ja, so kom Pastorale Teologie se versorgingsverhale en my sinmaak-verhale almal hier tuis binne ons gesamentlike verhaal van Pastorale Narratiewe Terapie. Die narratief het baie te danke aan deelnemers soos Michael White, David Epston, Gene Combs, Gill Freedman, John Winslade, Alice Morgan, … ai, die lysie gaan aan en aan.

Sosiale Konstruksionisme:

So as ek nou reg verstaan, sê jy daar bestaan ‘n behoefte om sin te maak van dinge wat met ons gebeur en as ons hulle nou in ‘n verhaal kan tuis bring, gee dit ons die ervaring van betekenisvolheid en samehangendheid. Maar wat nou as dit vir ons ‘n vernielverhaal is, ‘n boelieverhaal….?

Narratief:

Jippie, ek is so bly jy vra! Weet jy, daar is gelukkig nie net een verhaal moontlik nie – ons Toe ons nou ons verhaal, sê maar ons lewensverhaal, uit lewenservaringe geskep het, was daar nie plek vir alles wat ons al ervaar het nie. Ons moes toe kies en so heelwat uitlaat. As ons nou op die paadjie terugstap en daardie ervarings wat uitgeval het, gaan opsoek en hulle dalk eerder inspan in ons lewensverhaal, ontstaan daar dalkies ‘n ander verhaal, ‘n verhaal wat ek sou verkies omdat dit my sterker maak, my lewe meer betekenis gee…
So wat ek wil sê, is dat daar altyd ‘n veelvoud van verhale is waarin ek my bevind!

Pastorale Teologie:

Sjoe, Narratief, dis wonderlik! Dink net aan al die moontlikhede! Dit beteken vir my nou sommer baie. Ek wil dit gaar gaan uittoets…

Sosiale Konstruksionisme: 

Ja, en nou verstaan julle ook sommer meer van dit wat my ligkring bied: hier saam, in die verhouding tussen ons, skep ons gedurig nuwe betekenis; ons moet net altyd onthou dat soos die lig vir ons nuwe moontlikhede skep, die ligspel dalk ook steeds sekere moontlikhede in skadu hul…


Indien jy kyk daarna om narratief by ons te studeer, loer gerus hier (of in Engels verwoord hier). Daar is baie studente wat jaarliks hierdie program doen vir persoonlike ontwikkeling, om hulself, verhoudings of die wêreld beter te verstaan, en nie noodwendig om formeel ‘n berader te word nie. Jy is nou uitgenooi!